Hou haar dop: Melinda van Zyl van Krugersdorp is ’n vrou wat haar staan ken voor ’n vuur!
Die braaiers het mekaar dié week die stryd aangesê by Misty Hills, wes van Johannesburg. Twee lede van die skonere geslag het in Bring-en-Braai op kykNET teen mekaar gebraai: Lizmari Wolmarans van Pretoria en Melinda van Zyl van Krugersdorp.
Melinda het gewen en hier’s haar resepte:
Hoofgereg: Skaapsterte in kerriesous, skilpadjies en skaaprugtjoppies bedien met ’n aartappelgebak en slaai.
- Metode: Kook eers die skaapsterte vir ongeveer 2 ure sag in water en sit eenkant.
- Bestanddele vir die kerriesous: 2 groot uie, 500 ml water, 30 ml botter of vet, 15 ml matige kerriepoeier, 7.5 ml borrie, 30 ml suiker, 15 ml mielieblom, 5 ml sout, 250 ml matige asyn, 4 gedroogde perskes en 2.5 ml witpeper.
- Metode: halveer die uie en sny in dun skyfies, braai in botter of vet tot dit deurskynend is. Gooi die res van die bestanddele by en kook op, tot effens verdik. Voeg die skaapstertjies by die sous en kook vir ongeveer 20 minute. Haal die stertjies uit die sous en braai op vuur.
- Bestanddele vir die skilpadjies: 1 skaaplewer, 1 skaap se netvet.
- Metode: Verwyder die vliesie van die skaaplewer en sny die lewer in happiegroottes. Sny nou die netvet in 12 cm x 12 cm-groottes. Sit die lewer in die netvet en vou toe soos ’n koevert. Steek vas met ’n tandestokkie. Braai op die vuur vir 10 minute of tot die lewer gaar is. Gooi biltongspeserye oor.
- Bestanddele vir die sous van die skilpadjies: 125 ml blatjang, 125 ml tamatiesous, 75 ml Worcestersous, 125 ml appelkooskonfyt, 125 ml Sweet Chillie-sous en 125 ml kookolie.
- Metode: Meng al die bestanddele saam en smeer oor die skilpadjies.
- Skaaprugtjoppie se bestanddele: 4 skaaprugtjops, en Crowns-biltongspesery.
- Bestanddele vir die heuning-pruimsous: 4 vars pruime en 125 ml heuning.
- Metode: Skil die pruime, sit in ’n potjie met water – net sodat die pruime toe is, gooi die heuning by en kook tot sag en totdat dit ’n stropie vorm. Druk fyn en laat afkoel.
- Metode vir Skaaprugtjoppies: Braai nou die skaaptjoppies soos verkies en bedruip met sous terwyl jy braai.
Bykos: Potato Bake
- Bestanddele: 4 meduim aartappels, 1 medium rooi ui, 250 ml room, 1 Pakkie Knorr wituiesop, sout, swartpeper, 1 koppie cheddarkaas.
- Metode: Was aartappelsskoon in water, prik liggies met ‘n skerp mes en sit in ‘n potjie op die braai met koue water. Kook tot gaar (pasop dat dit nie fyn/pap kook nie). Rasper cheddarkaas en sit eenkant. Sny uie in baie dun ringetjies en hou eenkant. As aartappels klaar gekook is sit in koue water om die kookproses te stop. Skil aartappels en sny in dun (0.5 cm) ronde skywe. Pak uie op bodem van die staalbakkie gevolg deur gesnyde aartappels, sprinkel soppoeie roor en dan ‘n bietjie room en swartpeper na smaak en dan bietjie van die kaas. Herhaal tot die bak vol is en strooi kaas bo-oor en maak toe met foelie. Sit die potato bake in die middel van die rooster vir ongeveer 15 min. Die kole moet nie direk onder die bakkies wees nie. Versprei tot op kant van die braai. Wanneer die sous begin verdik is die gereg reg om af gehaal te word. Laat staan vir sowat 5 min en bedien saam met vleis.
Bykos: Slaai
- Bestanddele: Gemende basil-, rocket- en babaspinasieblare, klein rooi tamaties, vye en kiwi balsamiese sous.
- Metode: Halveer die tamaties, en sit eenkant, was die gemengde slaaiblare in koue water, meng die tamaties en slaaiblare saam en gooi n bietjie van die kiwi – en vyesous oor, en bedien.
Nagereg: Sjokoladepannekoek
- Bestanddele: 140g koekmeel, 30g kakao, 2.5 ml bakpoeier, 50 g suiker, 310 ml melk, 1 eier, 15 ml Botter – gesmelt, knippie sout, 1 blikkie Treat.
- Metode: Meng al die droë bestanddele saam. Maak ‘n gaatjie in die middel en gooi die nat bestanddele in en meng saam tot daar geen klonte is nie, maak toe met kombuis lap en laat staan vir 30 minute. Verhit ‘n 24 cm-kleefvrye pan op die braai, gooi n klein bietjie olie in die pan om te verhoed dat die pannekoek vassit. Gooi dan ‘n klein bietjie beslag in die pan om te kyk of die pan warm genoeg is(hy sa lborrels wys), sodra hy borrels bo-op maak draai om en braai nog sowat 2 tot 3 minute en haal vinnig af. Sit pan weer dadelik op die braai sodat sy hitte die selfde bly. Herhaal tot al die mengsel klaar is. Vat nou ‘n ronde voorwerp (bierglas, koekiedrukker, ens.) 4cm -4cm. Druk ‘n klomp sirkeltjies uit die pannekoek (daar kom so 3 sirkelsnit uit 1 pannekoek) en sit dit eenkant. Maak die blikkie Treat oop. Smeer nou die klein sirkel wat uitgedruk is in die binnekant met treat en rol toe en sit eenkant, herhaal tot jy genoeg porsies het (daar kom 3 op ‘n bord).
Roomys:
- Bestanddele: 1 Bak vanilla-roomys, 1 Vanilla pod.
- Metode: Smelt roomys n klein bietjie. Skraap die vanilla saadjies uit die vanilla pod met n messie en sit eenkant. Meng die vanilla saadjies wat jy uitgeskraap het in die roomys in en maak toe en vries.
Sjokolade Sigare:
- Bestanddele: 1 pak filodeeg, 1 plak donkersjokolade, 1 Flake sjokolade, 500 ml olie, mint blare (garnering).
- Metode: Filo moet ontvries wees. Haal een filolagie uit. Bedek res met ‘n skoon klam lappie sodat dit nie uitdroog nie. Sny die filo in klein blokkies van 12 cm -12 cm, pak twee lagies op mekaar en sit die res onder die lappie. Sny die sjokolade in stukkies. Sit die filodeeg wat gesny is op ‘n plat oppervlak, sit nou die sjokolade in die onderste regterkantse hoekie en begin toerol ( nie TE styf nie anders breek die filo), rol tot amper in die middel en dan vou jy die twee kanthoekies in(sodat die sjokolade nie uitloop as jy dit diepbraai nie) rol nou verder en seël die einde met koue water en sit eenkant, herhaal tot jy genoeg het, (1 -2 op ‘n bord). Gooi bietjie olie in ‘n potjie en sit op vuur, as die olie warm genoeg is (oppas vir té warm). Diepbraai die sjokoladesigare tot goudbruin en dreineer op handdoekrol.
- Opdiening van Nagereg: Smeer die karamel Treat op die bord in ‘n mooi netjiese lyn, paknou 3 van die gesmeerde Treat-pannekoekies op die Treat, sit dan ‘n bolletjie vanilla roomys bo-op en sit die sjokoladesigaar bo-op die roomys. Sif dan ‘n bietjie kakao bo-oor en garneer met ‘n vars mintblaartjie.
Misty Hills gee hierdie week vyf dubbeletes in hul wêreldbekende restaurant Carnivores weg. Elkeen van die wenners kry ook voorkeur van 30% afslag op oornagverblyf. SMS slegs BRAAI en jou naam na 34261. Standaard-voorwaardes en - SMS-kostes geld en wenners is verantwoordelik vir hul eie vervoer na Misty Hills.