Wat presies doen prokureurs en advokate in die staatsdiens?
Baie prokureurs en advokate het eers in die staatsdiens gewerk as aanklaer of landdros. Dis ook nie ongewoon vir ’n regstudent wat deeltyds studeer om in die privaatsektor of vir die staat te werk nie. Eerstens verdien hulle geld ten einde hulle studies te betaal en tweedens doen hulle waardevolle ondervinding op.
Die meeste groot maatskappye en staatsinstansies het hulle eie “legal advisors” of regsadviseurs wat werk in regsafdelings en wat daardie instansies van regsadvies bedien. Ten einde ’n regsadviseur te wees benodig jy gewoonlik ’n regsgraad en of praktiese ondervinding.
Maar sekere groot instansies bied werksgeleenthede vir persone sonder regskwalifikasies en geleenthede om kursusse by te woon en verder te studeer terwyl hulle werk. Dit is dus nie ongewoon dat iemand met ’n regskwalifikasie in ’n onverwante beroep werk nie, aangesien persone met regskwalifikasies gesogte werknemers is.
Dit word egter aanbeveel dat ’n kandidaat wat ’n regsgraad het praktiese advies opdoen in die regsprofessie selfs al beoog hy of sy om iets heeltemal anders te doen. Praktiese ondervinding is ook van onskatbare waarde. Dit kan die geleentheid bied om as sogenaamde “paralegal” semi-regswerk in die privaatsektor te doen.
In die staatsdiens bestaan justisie-college waar persone wat ’n loopbaan in die staatsdiens volg of wil volg, uitstaande ondervinding gebied word en waar klerke van die hof, staatsaanklaers en landdroste opleiding kan ontvang. Die staat het ook die kantoor van die staatsprokureur en staatsdepartemente beskik oor regsafdelings.
Die moontlikhede wat ’n regsgraad bied, is legio. Regstudente word geleer om probleme logies aan te pak en om relevante feite te onderskei van feite wat irrelevant is. Die metodiek van hoe om ’n probleem aan te pak en wat moontlike oplossings kan bied is sentraal tot hierdie opleiding.
Verder word regsmense opgelei om goed te kan skryf en praat, aangesien die aanbied van ’n argument sentraal is tot dié tipe werk. Indien jy ’n beroep of professie in die regsberoep of verwante bedryf oorweeg, word aanbeveel dat jy met ’n praktisyn in daardie veld gesels om soveel moontlik daaroor uit te vind as wat jy kan.