AS jy jou een aand in die Vaaldriehoek bevind en jy kry ’n oorweldigende lus om met twee broers skoor te soek, vra maar eers hulle ID-boeke.
Want as daai groen boekies sê hulle van is Van Heerden, moet jy maak dat jy wegkom.
Nie dat Chris van Heerden, die IBO se weltergewig-bokskampioen, of sy broer Danie, een van die EFC se top-ligswaargewigte, in klubs of op straat sal baklei nie. Hulle is nie só grootgemaak nie.
“Ek het my kinders geleer as jy wil baklei, baklei jy in ’n kryt. Ek het ’n fout gemaak, moenie dieselfde fout maak nie,” sê hulle pa, Daniël van Heerden. Van Heerden senior was ’n beroepsbokser wat in 1981 teen Pierre Coetzer sou boks, toe verloor hy sy lisensie oor ’n straatgeveg. Maar vandag is hy geweldig trots op sy kinders – ál 13 van hulle. “Ons het nie TV in my tyd gehad nie,” spot die oud-heavyweight.
Vrydagaand baklei Danie by EFC 18 in Carnival City teen Jason Culverwell en net die volgende aand verdedig Chris sy titel in Sandton se konvensiesentrum teen Matthew Hatton, die beroemde Brit Ricky Hatton (MBE) se kleinboet.