Bel die polisie! Nee, Dewald Dippenaar is sommer self deur die demone afgetrek.Foto: Select Musiek
Die sanger Dewald Dippenaar het verlede naweek een van die slagoffers geword van wat moontlik ’n SANDTON-POLISIESINDIKAAT is wat links-en-regs omkoopgeld van nagklubgangers vat!
Dewald, wat ironies genoeg nou besig is om die trefferleer te klim met sy liedjie Bel die Polisie, moes R1 300 opdok om tog net nie die naweek in die tjoekie te spandeer nie! Maar die cops het nie eers ’n asemtoets gedoen nie en om die storie nog meer bisar te maak, het Dewald 400 m verder in PRESIES dieselfde situasie beland.
Hy en twee van sy pelle het verlede Vrydagaand by die Manhattan-nagklub in Rivonia gaan kuier. Dewald erken: “Ek het ’n paar drankies tot twaalfuur toe gedrink en daarna net koeldrank. Ek moes huis toe bestuur.” En hy het nie die polisie gebel nie – hulle het hom sommer afgetrek.