LOS MY! Willem Alberts was 'n yster met die bal in hand. Foto: Foto24
Die Springbokke se twee skrumskakels, Francois Hougaard en Ruan Pienaar, is vandag die gelukkigste manne in die wêreld.
Nie net omdat die Springbokke gisteraand met die Engelse in Durban afgereken het nie, maar omdat hulle pay gekry het nadat hulle absoluut niks werk gedoen het nie.
Hulle altwee het hulle tyd gevat, veral agter die losskrums. Die Bokke se agterspelers kon nie veel met dié stadige bal uitrig nie.
Dít nadat die voorspelers hulle alies afgewerk het om die Bokke op die voorvoet te hou. Die keer of wat dat die bal vinnig wyd gespeel is, het die Bokke se spoedvrate, Bryan Habana en JP Pietersen, die Bleekbeen-Pommies laat bontstaan op verdediging.
Gelukkig vir hulle het die Bone Collector, beter bekend as Willem Alberts, gister saam met hulle gejol. Op die aanval het Alberts al wat ‘n opponent is voor hom platgehardloop terwyl hy die Ingelse keer op keer die grond-in gesmeer het op die verdediging.
Dit het amper gelyk of hy die onus op homself gevat het om namens al die groentjies die Bok-naam hoog te hou. Nietemin kan al die debutante rustig gaan slaap met die wete dat hulle volgende week weer in die beginspan hoort te wees.
Manne wie egter nie in die beginspan hoort nie, is Pierre Spies en Zane Kirchner, wat soos gewoonlik op die veld gestaan en rugby kyk het. Die kere wat Spies met die bal probeer hardloop het, kon hy nie sommer oor die voordeellyn kom nie. Kirchner het ook nie veel meer uit die laaste vesting gebied nie.
Maar al het die Bokke gisteraand se game met 22-17 gewen, lê daar nog ‘n kleinhuisie vol werk vir die Bok-coach, Heyneke Meyer, en sy nuwe span voor as hulle die volgende twee toetse teen die Pommies ook wil wen. Oor hulle verdediging kan hulle rustig slaap vanaand, maar die losgemale en hulle nuttelose geskop sal hulle nog nagmerries gee voor Saterdag se tweede toets in Johannesburg in die Cokeblik.
By die losgemale het referee Steve Walsh die Pommies met moord laat wegkom en selfs op ‘n stadium room om die Engelse-kaptein, Chris Robshaw, se bakkies gesmeer toe hy aan hom gesê het dat hy uitstekende werk by die afbreekpunte doen en dat sy tydsberekining perfek was.
Dit behoort kommerwekkend vir die Bokke te wees aangesien Walsh in die laaste game tussen dié twee spanne ook in beheer gaan wees.