O kwit: Die kieme tog.
Ons bure kom van Ierland af. Maar dis nie wat hulle eienaardig maak nie. Dié voorreg kom hul jongste dogter, die een met die Skandinawiese naam, toe.
Sy’t op die eerste dag wat ons met haar kennis gemaak het poedelnaak by ons motorhuis ingestap, terwyl haar ma, ’n goeie 100 m in haar stof, haar bekommerd probeer inhaal het. Dié hollende buurvrou het later, aksent en al, vertel dat haar telgie graag by hul voordeur staan en spioeneer op die bure.
Durf Ma die slag anderpad kyk, laat waai dié kleinding haar klere om ’n sogenaamde “nudie” in die bure se rigting te loods. Die probleem met dié klein klits se kaalhollery is haar sensitiewe konstitusie – ’n kombinasie wat af en toe ’n effense probleem kan wees. Soos die keer toe daar vir haar kerrie (op haar eie aandrang) opgedis is en sy drie dae lank kleinhuisie toe moes hol.
Of soos Vrydag, toe sy ons buurt se nuutste maagkiem ontwikkel het, terwyl sy en haar ouer sussie ’n playdate aan ons kant van die draad gehad het. Die blomme wat haar rooigesig moeder later as verskoning hier aangebring het was ’n mooi gebaar, maar na wat haar klein maag-rampokker aan ons sitkamermat gedoen het, sou ’n bottel ontsmetmiddel dalk meer van pas gewees het.
Die feit dat die vlekke op die mat van ’n aansteeklike oorsprong was, het die situasie nog minder aangenaam gemaak, en die gevolg was dat ek groot dele van my naweek op die troon deurgebring het. Die kiem wat die bure se kind, myself, en ’n groot persentasie van ons woonbuurt platgetrek het, is ’n nare kombinasie van diarree, naarheid en braking.
Infektiewe gastroënteritis, soos die dokters daarna verwys, is ’n infeksie van die verteringstelsel met kenmerkende naarheid en diarree. Ons gewone ouens praat egter daarvan as maaggriep, hoewel dit geensins verwant aan die griepvirus is nie. Die rampokkers wat verantwoordelik is vir dié “griep”, is in werklikheid ’n verskeidenheid bakterieë, virusse en selfs ’n paar sadistiese parasiete.
Een van die ernstiger komplikasies van ’n kiem soos die een wat die buurkind hier aangedra het, is ontwatering.
’n Ou se lyf verloor baie vloeistof as jy gedurig in die toilet moet kuier, en saam met dié liggaamsvloeistowwe verdwyn elektroliete, veral natrium en kalium, baie vinnig in die drein af. Dehidrasie en die elektroliet-wanbalans daarmee saam kan lewensgevaarlik by baie siek, baie jong en bejaarde pasiënte wees, en is g’n grap nie.
Babas veral kan vinnig ontwater. Die beste advies vir die voorkoming van dehidrasie is om seker te maak dat iemand wat vloeistowwe verloor, dit weer terugkry. Terwyl water beter is as niks, is dit gewoonlik nie genoeg om ontwatering te behandel nie. ’n Elektrolietoplossing soos Rehydrate is ’n beter benadering om broodnodige elektroliete te vervang, terwyl meeste apteke ook spesiale produkte aanhou vir jonger kinders.
Wat die meer opsigtelike simptome betref is daar darem ook raad. ’n Spoelmaag kan simptomaties behandel word met medisynes soos Adco-Loperamide en Gastropect wat oor die toonbank beskikbaar is by apteke. En as die loperamied nie help nie, meen die kenners dat ’n mengsel van twee verskillende anti-diarreemiddels, soos ’n kombinasie van Gastropect-en-Loperamied-stroop, in meeste gevalle wel die gewensde effek behoort te hê.
Naarheid kan behandel word met medisynes soos Adco-Siklisien, terwyl maagpyn goedkoop gepaai kan word met Scopex. Maar as dié medisynes nie jou toestand verbeter nie, of as jy koors kry, beveel ek aan jy bel jou dokter.
Wat kiemdraende buurkinders betref, het ek nie veel raad nie. Vir eers sal ek maar net ons deure gesluit hou.