Die vraag is: Wanneer sluit mens ’n kontrak?
’n Kontrak kom tot stand wanneer partye uitdruklik terme en voorwaardes op skrif ooreenkom en beide daardie kontrak teken. Niks verhoed die partye om ’n mondelinge kontrak te sluit wat net so geldig as ’n skriftelike kontrak sal wees.
’n Kontrak kan ook tot stand kom deur die optrede van die partye – dit wil sê ’n stilswyende kontrak of ’n kontrak deur implikasie. In die hart van ’n kontrak vind ons wilsooreenstemming (consensus).
Die basis van enige kontrak is aanbod en aanname wat dan consensus of wilsooreenstemming daarstel. Hierdie wilsooreenstemming word soms afgelei deur die optrede van die partye op die volgende wyses:
- Wanneer jy jou kar parkeer en daar’s ’n groot kennisgewing op ’n prominente plek wat terme en voorwaardes voorskryf, word dit geag dat jy toegestem het tot die parkeergarage se terme en voorwaardes.
- Wanneer jy ’n kaartjie koop wat sê “terme en voorwaardes geld” wat verwys na standaardterme en voorwaardes waarvoor jy moet vra of wat jy byvoorbeeld op ’n kennisgewingbord aantref of selfs op webtuiste. Indien jy die kaartjie koop, word daar geag dat jy toegestem het tot die terme en voorwaardes.
- Wanneer jy ’n kwotasie aanvaar en die dokument verwys na standaardterme en -voorwaardes en of fynskrif agterop die kwotasie, sal jou aanvaarding van die kwotasie ook geag word as aanvaarding van die standaardterme en -voorwaardes.
- In sekere gevalle behou die ander party die reg voor om hulle standaardterme en -voorwaardes eensydiglik te verander en jou bloot daarvan in kennis te stel. Jy stem toe hiertoe wanneer jy met hulle ’n kontak sluit. Dit is dus belangrik om seker te maak dat hulle jou korrekte adres sodat jy betyds hulle kennisgewings ontvang.
- Wees versigtig wanneer jy ’n vliegtuig- of buskaartjie koop, vir ’n kompetisie inskryf ’n hotelregister teken, ’n kwotasie aanvaar, jou voertuig parkeer, herstelwerk aan jou motor laat doen of ’n motorinsleepdiens gebruik.
- Maak seker dat jy bewus is van alle terme en voorwaardes en as jy onseker is, dat jy duidelik vra.
Tip van die week: Wanneer jy ’n dokument teken, lees die fynskrif en kyk ook wat agterop die dokument geskryf is. Kyk ook vir enige verwysing na standaardterme en -voorwaardes wat sal geld.
Volgende week se onderwerp: Jou regte met betrekking tot krediet en kredietooreenkomste.