Olimpiese trots: Cameron van der Burgh en Chad le Clos.Foto: Muntu Vilakazi
Soos dit maar elke jaar die geval is, het 2012 ook sy kwota hoogtepunte en laagtepunte op sportgebied opgelewer.
Sondag het die jaar in oënskou geneem en die volgende 30 vrae gestel om jou sportkennis te toets en terselfdertyd die geheue bietjie te verfris.
1. Watter Pommie-krieketspeler het sy bat vir bokshandskoene verruil?
2. Wie het die Blues vanjaar in die Superrugbyreeks afgerig? Tip: hy kon Pat Lambie se pa gewees het.
3. Wat het Heyneke Meyer by Tukkies geswot?
4. Watter gewese Shark-speler het vanjaar op Twickenham vir Engeland teen die Bokke gejol?
5. Watter twee internasionale krieketspelers is met popsangeresse getroud?
6. Wie is die Titan- en Protea-spanmaat wat in AB de Villiers en Ampie du Preez se musiekvideo-treffer, Maak jou droom waar, gespeel het?
7. Watter groot SA gholfspeler was op 13-jarige ouderdom Oos-Transvaal se junior tenniskampioen?
8. Watter omstrede internasionale fietsryer het as junior ook in swem en driekamp uitgeblink?
9. Watter F1-renjaer, ’n Duitser, is ook bekend as Baby Schumi?
10. ’n Top-internasionale tennisspeler en Tiger Woods is groot vriende. Wie is dié tennisster?
11. In watter twee ander posisies, behalwe vleuel, het Bryan Hababa op provinsiale vlak gespeel?
12. In watter land het sewesrugby ontstaan?
13. Wanneer is sewesrugby die eerste keer gespeel?
14. Watter Blou Bul het die hele jaar saam met die Springbokke getoer, maar nog nooit in ’n toets gespeel nie? 
15. Wie het die Springbokke se eerste toetsdrie vanjaar gedruk en teen wie?
16. Wie het Suid-Afrika se eerste goue medalje op vanjaar se Olimpiese Spele gewen?
17 .Watter Suid-Afrikaanse Olimpiese kampioen se pa het in ’n SuperSport-advertensie gesing?
18. Watter Blou Bul se doopnaam is MacGuyver?
19. Watter voormalige bokser het vanjaar deel geword van Suid-Afrika se misdaadsyfers?
20. Watter Jamaikaanse atleet het in ’n krieketwedstryd ’n kar se ruit uitgeslaan?
21. Hoeveel bonuspunte het die Stormers, wat bo-aan die Superrugby-punteleer geëindig het, gekry?
22. Watter Superrugby-span het die meeste bonuspunte vir drieë gekry?
23. Wie het die meeste punte in vanjaar se Curriebeker gescore?
24.Wie het die meeste drieë in vanjaar se Curriebeker-reeks gescore?
25. Wie is die gholfspeler wat in die Britse Ope heeltemal uit die bus geval en die deur oopgemaak het vir Ernie Els se sege?
26. Wie was die bouler toe Hashim Amla sy 300ste lopie in die eerste toets teen Engeland gemoker het?
27. Watter soort bok het Bakkies Botha as beroepsjagter onlangs in Frankryk platgetrek?
28. Wie was die kaptein van Kaizer Chiefs se sewesrugbyspan vandeesmaand in George?
29. Watter dans het Juan de Jongh uitgevoer toe hy sy drie in die Curriebeker-final gescore het?
30. Hoe oud was die Lions-paaltjiewagter Quinton de Kock toe hy in die Protea-groep ingesluit is.
Die antwoorde van die vrae sal die eerste week in Januarie hier wees.