Ek’s ’n GROOT fliek-snob! Ek kyk veel eerder na iets soos The Artist as wat ek 90 minute van my lewe mors met snert soos Mad Buddies!
Flieks met onnoselheid, vertraagde grappies en mense wat oor hulle voete val is buitendien so 90’s. As ’n trotse Afrikaner is ek nogal beïndruk met die aantal Suid-Afrikaanse flieks wat deesdae uitkom. Die kwaliteit (en veral die toneelspel) is stukke beter as wat dit in vervloë dae was!
Daar’s niks wat my meer irriteer as “akteurs” wat nie behoorlik kan act nie! “Nee, Vader, moet u asseblief nie oor my welstand kwel nie. Ek is vasbeslote dat ek eendag weer die gebruik van my bene sal herwin,” is die dialoog van een of ander stokoue Afrikaanse film oor ’n meisiekind wat die gebruik van haar bene verloor het.
Hoe moet mens so iets ernstig opvat, veral as sy die dialoog met singende grasie uiter? Die goeie nuus is dat die standaard van Afrikaanse films beslis sedert kranklike Katrien in haar katel verbeter het.
Dis ook nice om te sien dat die baie talentvolle AKTEURS wat ons in die land het ook bietjie vir ’n slag in flieks gebruik word in plaas van ons sangers. Hoewel sommige (en ja, ek GAAN hulle name noem) soos Steve Hofmeyr en Bok van Blerk ’n baie goeie job voor die kameras doen, is daar weer ander soos Kurt Darren wat maar eerder nie moet act nie.
Wie het actually Ek Lief Jou klaar gekyk én dit geniet? Ons het uitstekende akteurs in die land en dis hoog tyd dat ons meer van hulle sien. Sedert Liefling is Afrikaners gebombardeer met goeie Afrikaanse blockbusters soos Roepman, Hoofmeisie en Semi-Soet.
Dan’s daar nog Die Wonderwerker, Stilte, Pretville en Wolwedans in die Skemer wat voor die einde van die jaar uitkom.Sommige mense glo flieks soos Roepman en Skoonheid is “te diep” en dat die Afrikaner eerder iets platvloers en kommin soos ’n Leon Schuster-komedie verkies.
Sy flieks maak mos miljoene.Hoekom, sal ek nooit kan verstaan nie, want die laaste kykbare fliek wat hy gemaak het was There’s a Zulu on My Stoep. As Leon dan sulke goeie komedies maak, hoekom dóén hy dit dan nie? In plaas daarvan is dit dieselfde ou “grappies” wat oor en oor en oor gebruik word.Vat weg die snert en bring meer goeie flieks in ons taal uit!