Yster! JP Pietersen was loshande die Bokke se beste speler op die veld. Foto: Foto24
As die Bleekbene weet wat goed is vir hulle kan hulle net so wel hulle tasse vandag pak en huistoe te gaan, want die Springbokke gaan vir hulle seermaak. En as gisteraand se oorwinning op die Coke-blik enige aanduiding daarvan is, gaan die Rose met meer beserings huistoe as hulle voorvaders na die Anglo Boere-oorlog.
Wel, dit is in elk geval wat mens na die eerste helfte kon sê toe die Bokke die Pommies heeltemal deurmekaar gehardloop het. Spoed was ’n faktor en die Bokke het met flink diens die Rose laat bontstaan asof hulle smag na ’n bietjie windbestuiwing vroeg in September.
Dit het begin met blitsige diens agter die losgemale van Francois Hougaard en selfs ’n bietjie aanvallende rugby van Morné Steyn – iets wat die Engelse beslis nie verwag het nie.
Voorlangs het Willem Alberts en Marcell Coetzee weereens die pap lekker dik aangemaak en seker gemaak dat die Rose vandag met seer lywe rondloop.
Die Bokke se kaptein van staal, Jean de Villiers, en JP Pietersen was ook vir die Bokke op die aanval goud werd.
Die tweede helfte was egter ’n heeltemal ander storie en dit het harde werk gekos om met 36-27 baas te wees. In die laaste 40 minute was dit asof die plaasvervangers vir Pat Lambie en Alberts te veel ontwrigting in die span veroorsaak het. Dit is nie dat Wynand Olivier en Keegan Daniel iets verkeerd gedoen het nie, maar eerder dat hulle net nie soveel bied soos die manne wie begin het nie.
Die Bokke was soos laas week verwoestend in die skrums gewees, maar ook maar net totdat die plaasvervangers opgestuur is.
Ná laas week se game het die Engelse se voorspeler-afrigter, Graham Rowntree, gesê die Bokke het soos ’n klomp beeste gelyk. Maar na gisteraand se game moet die Bokke eerder nie begin grootkop kry nie, want hulle is ’n behoorlike skrumles in die tweede helfte geleer.
Wat presies die plaasvervangerstut, Werner Kruger, gister vir die Bokke op die veld beteken het, is nie seker nie. Mens kan nie eers sê hy het rondgeploeter nie, want dan beteken dit hy het iets gedoen. Hel, selfs die Lions se Pat Cilliers, wie lekker vrolik in die paviljoen gekuier het, het na ’n beter opsie op vaskop as Kruger gelyk.
Die Rose het, soos laas week, weer by die afbreekpunte met moord weggekom terwyl ref Alain Rolland die Bokke omtrent elke slag vir dieselfde oortreding gestraf het. Al het die Bokke in die fasset bietjie beter as laas week gevaar het, kan dit nog baie verbeter voor volgende week se laaste toets in die Baai.